Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 14 Oktober 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

IS U KLUB BY DIE SARL GEAFFILIEER?

LIDMAATSKAPHERNUWINGS

VIER NUWE KUBUSSATELLIETE VANAF DIE INTERNASIONALE RUIMTESTASIE ONTPLOOI

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

IS U KLUB BY DIE SARL GEAFFILIEER?

Die SARL het klubs onlangs uitgenooi om gratis by die Liga te affilieer. Die volgende klubs het dit reeds gedoen:

Highway Amateurradioklub - ZS5HAM
Boland Amateurradioklub- ZS1BAK
Midlands Amateurradioklub - ZS5PMB
Cape Town Amateurradiosentrum - ZS1CT
Border Radioklub - ZS2BRC
Bloemfontein Amateurradioklub - ZS4BFN
Durban Amateurradioklub - ZS5D
Oos-Rand Amateurradioklub - ZS6ERB
Kemptonpark Amateurradio Tegniese Vereniging - ZS6KTS
Pretoria Amateurradioklub - ZS6PTA
Rustenburg Amateurradioklub - ZS6RTB

Affiliasie met die SARL bied klubs die voorreg om ‘n eksamensentrum te bedryf, die insluiting van nuus oor hulle aktiwiteite en gebeure op SARL Nuus en op die SARL-webwerf asook ‘n skakel vanaf die Klubklets-bladsy en toegang tot oudiogrepe vir gebruik in die klub se op-die-lug bedrywighede.

Om 'n geaffilieerde klub se webwerf te besoek, besoek www.sarl.org.za, klik op ‘Club Talk’ en volg die koppeling.

Om deel te word van die groep reeds-geaffilieerde klubs, stuur ‘n e-pos aan secretary@sarl.org.za en ‘n affiliasie-aansoekvorm sal aan u gestuur word.

LIDMAATSKAPHERNUWINGS

Die Tesourier van die SARL rapporteer dat alle lidmaatskaphernuwings tans gefinaliseer word. Sodra hierdie lyste bevestig is, gaan die databasis oorgeskakel word na 2012/2013. Die afsnydatum vir u hernuwing word beplan vir 30 Oktober 2012. Indien u nog nie u ledegeld betaal het nie, gaan u dus u ononderbroke lidmaatskapstatus verloor. 'n Nuttige opsie vir ons lede is om te kies om die ledegelde af te betaal in twee, vier of ses paaiemente wat moet plaasvind tussen Julie en Februarie van die jaar. Dit sal jou steeds in staat stel om tydens die AJV van die SARL in April te mag stem. U ooreenkoms moet aan die kantoor gestuur word om stemreg te behou en om ons rekords op datum te hou. Indien u dit nie nou doen nie, mag u nie by die AJV stem nie. Sluit aan by sie SARL en ondersteun jou stokperdjie se ontwikkeling, help beskerm die frekwensietoekennings en geniet 'n stem op regeringsvlak. Verdere besonderhede is beskikbaar by www.sarl.org.za. Stuur jou bevestiging na admin@sarl.org.za.

VIER NUWE KUBUSSATELLIETE VANAF DIE INTERNASIONALE RUIMTESTASIE ONTPLOOI

Radioamateurs om die wêreld luister vir seine vanaf die vier nuwe amateurradio-kubussatelliete wat op 4 Oktober uit die Internasionale Ruimtestasie ontplooi is.

F1TSat-1 het 'n GG-baken op 437,250 MHz, 1 200 bps, AX.25 pakketradio op 437,445 M Hz en 'n hoë-spoed datasender op 5 840,0 MHz.

F-1 het die roepsein XV1VN. Die kommunikasiesubstelsel is gebou om twee amateurhandstelletjies, die Yaesu VX-3R sender-ontvanger. Een sal elke 30 sekondes 1 200 bps pakketradio uitsaai op 145,980 MHz terwyl dit in die donker is. Die ander een sal net in sonlig werk en 'n 20 sekonde FM GG-toon op 437,485 MHz uitsaai, gevolg deur 'n 60 sekonde stilte.

TechEdSat het 'n 1 200 bps pakketradiosender op 437,465 MHz.

WE-WISH saai GG en 1 200 bps pakketradio op 437,505 MHz uit. As gevolg van die Doppler-effek sal die frekwensie van die afwaartse skakel varieer met omtrent 10 kHz gedurende ‘n 8 minute oorvlug.

Elke satelliet kan ‘n werklewe van vier tot vyf maande hê voordat dit uitbrand met die terugval in die aardatmosfeer in.

“AMATEUR RADIO TODAY” VERANDER VAN FREKWENSIE OP 28 OKTOBER

“Amateur Radio Today” word vanaf Sondag 28 Oktober op nuwe frekwensies uitgesaai:
Sondae 10:00 CAT op 7 205 kHz and 17 760 kHz;
Maandae 18:30 CAT op 4 895 KHz

Ontvangsverslae word versoek. Ons stel veral belang in verslae oor die 4 895 kHz uitsending op Maandae om 18:30 UTC aangesien hierdie frekwensie naby die voorgestelde nuwe amateurtoewysing op 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede in Suid-Afrika sal nuttig wees om ons aansoek by OKOSA te motiveer. Stuur verslae na artoday@sarl.org.za.

OKTOBER 2012 RAE

'n Totaal van 169 kandidate het ingeskryf vir die Oktober 2012 Radioamateureksamen. Die SARL wens alle kandidate voorspoed toe wanneer hulle die eksamen Donderdagaand aflê.

Die normale tydsverloop tot bekendmaking van die uitslae is drie weke. Kandidate word versoek om geduldig te wees terwyl die eksamenskrifte gemerk en resultate verwerk word.

CQ HOU KOERS EN JOTA BEDRYF, SCOUTS EN VOORTREKKERS

Op versoek van die SARL het OKOSA toegestem dat ongelisensieerde jongelinge wat aan JOTA and CQ Hou Koers deelneem ‘n amateurstasie mag bedryf onder die toesig van gelisensieerde radioamateurs, sonder die vereiste dat die stasie registreer as ‘n opvoedkundige stasie.

Hierdie twee gebeure is ideale geleenthede om amateurradio aan die jeug te demonstreer deur hulle praktiese bedryfservaring te gee. Wys hulle hoe om CQ te roep en hoe om self ‘n QSO te hanteer, alles onder leiding van ‘n gelisensieerde amateur.

Hierdie oorkoepelende vergunning sal slegs van krag wees gedurende die twee dae, 20 and 21 Oktober. Vir amateurs wat beplan om nie-amateurs toe te laat om die stasie te bedryf op ander tye as die twee dae, geld die vereiste om as ‘n opvoedkundige stasie te registreer, nog steeds.

Die SARL bedank OKOSA vir hulle ondersteuning om CQ Hou Koers and JOTA ‘n gedenkwaardige geleentheid vir ons jongmense te maak.

NUWE BOEKE EN ‘N QRP-BOUSTEL VANAF SAARDT

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust het twee nuwe boeke beskikbaar. Hulle is die ARRL se:
“Low Power Communication” en
“Short Antennas for 160 Metre Radio.”
‘n Klein aantal 40 meter GG QRP-boustelle is beskikbaar, asook die “ARRL Antenna Book” en ‘n paar 2012 ARRL handboeke in hardeband. Daar is meer inligting op www.amateurradio.org.za.

RTA 2013

Daar word reeds voorbereidings getref vir die 2013 RTA simposia. Is daar ‘n onderwerp wat u graag op die program wil sien? Stuur dan ‘n e-pos met u voorstelle aan rta@sarl.org.za.

VRYWILLIGERS VIR DIE SARL SE NUUSSPAN

Die SARL-Nuusspan benodig steeds vrywilligers vir die samestelling en vertaling van SARL bulletins. Bulletinsamestellers moet SARL-lede wees, tweetalig en met basiese rekenaar- en redigeringsvaardighede en moet 'n e-posadres hê.

Indien u dalk die nodige vaardighede het en bereid is om die taak te probeer, stuur asseblief onmiddelik u naam en kontakbesonderhede aan Fritz, ZS6SF, met e-posadres secretary@sarl.org.za. Sonder genoeg vrywilligers, kan die Afrikaanse bulletin nie volgehou word nie.

KOMPETISIENUUS

Die ZS6JVT 40 meter Jeug Lentenaelloop het op 2 September plaasgevind. Die beoordelaars het lank tyd toegelaat om te sien of daar nog enige logs sou inkom. Slegs twee logs is ontvang en een kontrolelog van ZS6JVT self.

Die uitslag is as volg:
1ste Mitchell Mynhart, ZS6YH
2de ZS4SRK, Sasol Radioamateurklub.

Baie dankie aan die twee stasies wat wel die moeite gedoen het om logs in te stuur asook die stasies wat vir hulle punte gegee het.

Die komitee van ZS6JVT het besluit om in die lig van die swak ondersteuning nie weer volgende jaar die kompetisie aan te bied nie.

KLUBNUUS

Magalies Amateurradioklub het op 29 September 2012 sy Algemene Jaarvergadering gehou en die volgende lede is tot die komitee verkies:

Thys Maree, ZS6MJM Voorsitter
Brian Jacobs,ZS6YZ Ondervoorsitter
Anette Jacobs,ZR6D Sekretaresse
Louis Mitchell, ZS6LWM Tesourier/Penningmeester
Sam van Zyl, ZS6JZ Tegnies
Hannes Enslin, ZS6JDE Digitaal
Marco Nel, ZS6MJ Teenspanning
Gordon Forbes, ZS6FI Sosiaal
Johann du Plessis, ZS6PSS Bulletinkoördineerder
Johann du Plessis, ZS6PSS Jeugkoördineerder
Pieter Human, ZS6PA Kompetisiebestuurder
Chris Smit, ZS6FCS Openbare Skakelbeampte

Tydens die AJV van die Bloemfontein Radioamateurklub, gehou op 29 September, is die mosie om die naam te verander na die Bloemfontein Amateurradiollub aanvaar. Die volgende lede is verkies tot die nuwe komitee:

Voorsitter: Warren Riley, ZS4W
Vise-voorsitter: Brendon Muller, ZS4BM
Sekretaresse: Jenni Riley, ZS4J
Tesourier: Frans Marais, ZS4FM
Lede: Andre van Rensburg, ZS4APA en
Dennis Green, ZS4BS

Groot dank aan die uitgetrede komiteelede vir hulle diens en voorspoed toegewens aan die nuwe komitees vir die nuwe bestuursjaar.

HF VOORTPLANTINGSTOESTANDE

Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, berig dat die vooruitsigte vir die volgende paar dae onbestendig is. 'n Groot C-klas fakkel is waargeneem en die agtergrond X-straalvloed is in die boonste B-klas vlak. Geomagnetiese toestande is onbestendig. Plaaslike HF-frekwensies is onstabiel, maar daar word verwag dat dit na die maandelikse gemiddelde voorspelde waardes sal terugkeer.

'n Sonwind uit 'n geo-effektiewe koronaopening sal waarskynlik die aarde vandag of more bereik. Die geomagnetiese konfigurasie in gebied 1 585 groei in kompleksiteit en het die potensiaal vir verdere fakkelaktiwiteit. Die sonvlektelling is tans 63.

Vyfien meter behoort goeie DX-toestande te lewer in die middel van die oggend en middag, met 20 meter goed later in die dag. Daar sal 'n paar 10 meter openinge voorkom; roep op 10 meter en u mag verbaas wees. Deel u DX-ondervindings hierdie week deur 'n e-pos te stuur aan artoday@sarl.org.za.

Vir ruimteweerinligting wat op datum is, besoek www.spaceweather.co.za.

DAGBOEK VAN GEBEURE
20 Oktober - Jamboree-op-die-lug en CQ Hou Koers.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolf-luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Fritz Sutherland, ZS6SF, en dit is saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003